Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 14 DESEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

SLUIT BY DIE SARL AAN EN BETAAL SLEGS VIR SES MAANDE

NOVEMBER/ DESEMBER SE RADIO ZA IS IN DIE POS

NOMINASIES VIR SARL-TOEKENNINGS

HELP ONS OM 1 400-LEDETAL TEEN DIE EINDE VAN DESEMBER TE HAAL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SLUIT BY DIE SARL AAN EN BETAAL SLEGS VIR SES MAANDE

Indien u nie ‘n lid van die SARL is nie, nooi ons u om nou aan te sluit vir slegs die helfte van die jaarlikse ledegeld tot die einde van Junie 2009. Ons sal ook die November/Desember-uitgawe van Radio ZS as bonus vir u stuur. In Junie sal u weer ‘n hernuwingskennisgewing ontvang vir die volgende jaar se ledegeld.

Dié aanbod geld ook vir radioamateurs wat nog nie hul ledegeld vir hierdie jaar hernu het nie, en van die lede-databasis teen die einde van September verwyder is. U aansluitingsdatum sal egter aangeteken word as 1 Januarie 2009. Ongelukkig sal u die vorige lidmaatskaprekord verbeur en sal u as ‘n nuwe lid aansoek moet doen. Aansoekvorms is op die SARL-webwerf www.sarl.org.za beskikbaar. U sal ook die November/Desember-uitgawe van Radio ZS as bonus ontvang.

Die 6-maande lidmaatskap beloop R170. Skakel Vee op enige weeksdag tussen 09:00 en 13:00 om ‘n aansoek om lidmaatskap per e-pos te ontvang, insluitende die SARL se bankbesonderhede. Al die tersaaklike inligting is beskikbaar by www.sarl.org.za – klik op “membership”.

NOVEMBER/DESEMBER SE RADIO ZS IS IN DIE POS

Die November/Desember-uitgawe van Radio ZS is Donderdag gepos en is ook op die SARL se webtuiste www.sarl.org.za beskikbaar.

Dit is nog ‘n uitgawe met volop boeiende leesstof en bouprojekte. Lees meer oor die eerste 4 meter meteoriet-strooïngkontak tussen ZS2ACP en ZS6NK. Bou u eie oudio/rf-seingenerator met Christo Pelser, ZS6AHQ. Christo het die Radio-ontwikkelingstrust se boustelkompetisie vir 2008 gewen. Bou ‘n PIC-gebaseerde radiobaken met ZS1PR. Verken moderne pakketradio met ZS6BNE of bou u eie vertikale multi-bandantenna met ZS6KMD. Vir ontspanning kan u ook ‘n blik oor die geskiedenis en die aktiwiteite van museums lees. Dit alles in die jongste uitgawe van Radio ZS.

Indien u nognie ‘n lid is nie en graag ‘n lusmaakkopie van Radio ZS wil ontvang, stuur ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za met Radio ZS in die onderwerplyn en ons sal u toon wat u besig is om te verbeur.

NOMINASIES VIR SARL-TOEKENNINGS

Lede en klubs word genooi om nominasies aan die Raad van die SARL in te dien vir die volgende SARL-TOEKENNINGS:

Lewenslange erelidmaatskap – dit is die SARL se hoogste toekenning.

Willie Wilson goue wapen
Toegeken deur die Raad aan die amateur wat uitsonderlike en verdienstelike diens aan die Liga verleen het.

Jack Twine-toekenning
Ter erkenning van kwaliteite soos onselfsugtigheid, goeie radiobedryfsprosedures en ‘n egte belangstelling in amateurradio. Hierdie besondere toekenning word gegee aan amateurs, volgens die mening van hul mede-amateurs en die Raad, wat oor die kwaliteite besit wat in amateurradio nagestreef behoort te word.

Arthur Hemsley-2 metertoekenning
Deur die Raad toegeken aan ‘n radioamateur vir sy/haar individuele uitsendings op die 2 meter-frekwensie. Dié toekenning geld vir buitengewone prestasie op AMA- of andermodusse, soos troposferiese voortplanting. Die geld nie vir die langste afstand bereik nie, maar vir volgehoue deursettingsvermoë om iets besonders op 2 meter te bereik.

Barney Joel Trofee
Toegeken deur die Raad aan enige lid van die SARL vir die beste prestasie op HF deur ‘n mobiele stasie. Dié toekenning kan aan ‘n individu toegeken tydens ‘n tydren of ander openbare kommunikasiegeleentheid, ensovoorts.

Icom-toekenning vir uitnemendheid
Dié toekenning word jaarliks deur die Raad gemaak aan ‘n amateur wat deur sy/haar aktiwiteite internasionale erkenning vir amateurradio in Suid-Afrika besorg het deur langafstand BHF-/UHF-langafstandwerking, of deur diens aan die Republiek van Suid-Afrika op die veld van wetenskaplike navorsing in Amateurradiospektrum, of deur die bevordering van amateurradio internasionaal, of van tyd tot tyd deur die Raad bepaal.

Joseph White-skild
Toegeken duur die Raad aan enige lid van die SARL vir buitengewone prestasies In die 432 MHz-band deur die afgelope jaar. Dit word nie toegeken vir die langste afstand behaal nie, maar vir beste algehele prestasie.

Bert Buckley 6-metertrofee
Deur die Raad toegeken aan ‘n amateur vir sy/haar individuele prestasies in die 6-meterband. Hierdie trofee geld nie vir die langste afstand bereik nie, maar vir uitmuntende prestasies op die 6-meterband.

HELP ONS OM 1 400-LEDETAL TEEN DIE EINDE VAN DESEMBER TE HAAL

Die ledetal van die Liga staan tans op 1 359, wat net 41 te min is vir die 1 400-teiken teen die einde van Desember. Help ons asseblief om dié teiken te bereik deur u vriende aan te spoor om aan te sluit. Die volgende lede wat die afgelope week aangesluit het, word hartlik verwelkom, en ons vertrou dat u ‘n lang en aangename verbintenis met die SARL sal hê:

ZR1AA, Patrick Yeadon
ZR2GEC, G. Currin
ZR6ALG, Tony Vice
ZS6L, Johann van Rooyen
ZS6TMV, Frank van Wensveen
ZU6PJL Pieter le Roux
ZU6M, Mitchell Mynhardt
ZU6MM, Melinda Mynhardt.

KOMPETISIENUUS

Die Sasolburg Radioklub, ZS4SRK, kondig die uitslae van die ‘Blockhouse sprint’ vir 2008 aan:

1e ZS4JAN, Jan Botha – 354 punte
2e ZS6PTA, Pretoria Amateurradioklub – 176 punte
3e ZR5PO, Jo Snyders – 174 punte.

Veels geluk!

Die volledige uitslae sal volgende week in HF Happenings 332 gepubliseer word; dit sal ook op www.sarl.org.za beskikbaar wees.

Sertifikate vir die kontakte wat gemaak is en die grafiese uitbeeldings, sal binnekort gepos word.

Die 38ste ‘Hunting Lions on the Air’ vind plaas oor die naweek van 10 en 11Januarie 2009. Die reëls kan van www.sarl.org.za afgelaai word.

Die PEARS BHF-/UHF-kompetisie vind plaas vanaf Vrydag 16 Januarie 2009. Hierdie kompetisie word in twee sessies aangebied. Die eerste sessie begin om 18:00 SAT op Vrydag en eindig om 16:00 SAT op Saterdag, Die tweede sessie strek van 16:01 op Saterdag tot 14:00 SAT op Sondag 18 Januarie. Aktiwiteite vind plaas op 6-, 4- en 2-meter asook 70- en 23-cm. Die reëls is op die PEARS-webwerf beskikbaar.

SARL HF-velddag
Die eerste been is geskeduleer vir die naweek van 14 en 15 Februarie 2009. Die Saterdag is Valentynsdag. Moet dié datum verander word?. 7 en 8 Februarie is die AWA-GG-aktiwiteit en op 21 en 22 Februarie is die ARRL Internasionale GG-kompetisie. Stuur 'n e-pos aan hfcontests@netactive.co.za en dui aan watter naweek u sal pas.

UITNODIGING OM BY DIE “YOUNG AMATEURS CONTEST HAM TEAM” AAN TE SLUIT

Deur die Internet te verken vir jeugwebtuistes vir radioamateurs, het Andries, ZS6VL, vir Ed, KG8CX, ontmoet. Ed is die stigter van Y.A.C.H.T.; ‘The Young Amateur Contest Ham Team, wat aktief betrokke is om jong amateurs aan te spoor deur die K8DAR-stasie in Menominee, Michigan. Y.A.C.H.T. het ‘n uitnodiging aan jong Suid-Afrikaanse amateurs gerig om by hulle aan te sluit, en die eerste internasionale lede is ZU6M, Mitchell, en Melinda, ZU6MM. Die Sasolburg Radioklub, ZS4SRK, hoop dat hierdie nuwe verbintenis tussen jong amateurs in die VSA en SA sterk mag groei. Dankie aan Ed en sy span vir hul bereidwilligheid en radioamateurgees wat hulle aan die dag lê. Besoek www.qsl.net/zs4srk/youth.htm vir meer inligting en vertel jong amateurs hiervan!

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld se vlak sal oor die algemeen stil wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf onderskeidelik 14:00 en 18:00 SAT na Indië. 15 m kontakte met Nieu-Seeland gaan vir 'n kort rukkie om 08:00 moontlik wees. Om 08:00 en om 14:00 is daar moontlike flou 20 m-openinge na Australië. Swak kontakte met Peru is om 14:00 op 15 m moontlik, waarna swak openinge op 20 m moontlik word. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 12:00 gewerk word en op 20 m vanaf 19:00.

Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike swak 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se ooskus is op 15 m om 20:00 moontlik en met die weskus na middernag op 20 m.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m word bietjie wakker voor oggendtee.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en statiese ontladingsgeraas baie uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Desember – PIC-kursus in Port Elizabeth;
10 en 11 JANUARIE - :Hunting Lions on te Air”;
16 tot 18 Januarie – PEARS BHF-/UHF-kompetisie;
31 Januarie 2009 – Mosies en agenda-items vir die SARL 2009 AJV moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel, en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003